Biografie

Rudi Muller is 'n inheemse naam in die Suid Afrikaanse musiekbedryf. Rudi wat nie net bekend is vir sy talle trefferliedjies en albums nie, is ook 'n bekende gesig by die organisering van verskeie feeste. 

Rudi is op 10 Junie, 1977 gebore te Nigel, waar hy nog sy hele lewe lank leef. Gedurende sy kinderjare was die bewys reeds daar dat Rudi alles het wat dit vat om 'n ikoon te word in die musiekbedryf. Op 6 jarige ouderdom tree hy op saam met die allerbekende 80's groep, die "Soft Shoes" by 'n talentkompetisie in Nigel. Gedurende dieselfde tydperk word hy genader om as jong kunstenaar sy eerste TV verskyning te maak vir 'n TV-advertensie vir die destydse "Goed Beter Botter" handelsmerk.

Na skool sluit Rudi aan by die familiebesigheid wat gespesialiseer het in galvanisering. Hy beproef ook verder sy musikale talent met plaaslike vertonings af en toe.

In 1999 sien Sting Music die stralende talent van Rudi Muller raak en bied hom sy eerste platekontrak aan. "Kan jy my hoor" het kort daarna die lig gesien! Van hier af het Rudi suksesvol voortgebou en in 2002 word hy genader deur die Internasionale Maatskappy, EMI. "Tussen Die Lyne" word onder leiding van EMI vrygestel en bevat treffers van die era soos "Dans" en "Jy's die rede." Op hierdie album kry Rudi ook die geleentheid om saam met internasionale bekroonde skrywer, Lourens Fourie te werk wat onder meer ook vir Dana Winner geskryf het. 

In 2004 word Rudi deur Gallo genader vir die vrystelling van sy volgende reeks albums. Gedurende 2004 word "Mal oor jou" vrygestel en saam met die skrywer, Joe Niemand, word treffers soos "Warm Patat" en "My Liefste Mens" oornagsensasies! 


Rudi Muller

In 2006, steeds onder die leiding van Gallo word "Voel jy" vrygestel en soos net Rudi Muller kan, word die titelsnit "Voel Jy", en "Dokter Dokter" sinoniem met Suid Afrikaanse gehore. 

In 2008 stel hy sy vyfde album "Altyd hier" deur Gallo vry.

2010 was 'n wendingjaar vir Rudi met sy loopbaan en persoonlike lewe. 'n Reeks gebeurtenisse laat hom nadink oor die lewe en spesifiek sy geloof. 'n Noue ontkoming met die dood bevestig vir Rudi wat hy in sy hart glo. Hy sluit aan by Vonk Musiek en onder die leiding van die gedugte span, word sy Gospel trefferalbum, "Deurbraak", vrygestel. Die album bevat twaalf oorspronklike nommers uit die pen van Rudi homself, Kobie Koen, Marely Koen en Gerhard Steyn. Rudi neem ook twee Gospel-snitte op wat vir hom baie betekenis het, naamlik "Die Oorwinningslied" en "I do Believe" van die Gaither Vocal band. 

TETELESTAI 

Rudi Muller se jongste CD, Tetelestai, is ‘n album wat die klank van geestelike musiek in ‘n nuwe wentelbaan plaas. Dit is ‘n grootse, fyn georkestreerde versameling van liedjies met ‘n internasionale klank wat ver anderkant die grense van gospelmusiek die hartsnare sal roer. 

“Ons het by vriende gaan kuier en die woord ‘Tetelestai’ was redelik sigbaar in en om hulle huis,” vertel Muller wat dié album as sy mees persoonlike tot nog toe beskryf. “My eerste reaksie was om te vra wat dit beteken, waarna my vriend verduidelik het dat dit die Griekse kruiswoorde van Jesus was: ‘Dit is volbring’. Kort daarna het die lirieke en melodie (vir die titelsnit) net begin vloei, minwetend watter impak dit later op my sou hê.” 

Op 14 Julie 2013 het Muller hom langs sy pa se sterfbed bevind. “Die tyd het aangebreek om te groet. Die heel eerste woord wat ek saggies kon uiter, was ‘Tetelestai’... Dit is volbring. Ek word opnuut bewus van die werklike impak van die laaste kruiswoorde. Dit wat ons partykeer beskou as finaal was gespreek sodat elkeen van ons die ewigheid in harmonie eendag saam kan ervaar.” 

Tetelestai bevat veertien liedjies wat ‘n Lof-keurspel en twee Engelse snitte insluit en is saam met Deon van der Merwe (van Touch of Class-faam), Hanalie Burger en Ruhan du Toit opgeneem. Van der Merwe en Burger het uiterste moeite gedoen met die verwerkings wat die luisteraar van die eerste note meesleur. “Dit was die hele uitkyk om op hierdie wyse God se Genade en sy Grootheid te besing. Hanalie en Deon is geniaal en hul talent en kreatiwiteit spreek vanself.” 

Muller het vir sowat twee jaar lank aan die album en sy liedjies soos Vlambaar en die polsende Wat sal jy doen? gewerk. “Ek voel baie sterk daaroor, dat wanneer ‘n geestelike repertoire saamgestel word, moet dit ‘n werklike toonbeeld van ‘n persoonlike boodskap of ervaring wees.” 

Hoewel Tetelestai volg op sy kragtige gospel-debuut Deurbraak en het dié sanger-liedjieskrywer van Nigel al ‘n handvol ander pop-albums op sy kerfstok, verkies Muller om nie homself as ‘n gospelsanger te etiketteer nie. “Ek probeer met al my foute diensbaar te wees en om as instrument gebruik te word. Ek glo elkeen van ons kan ‘n verskil maak, op watter wyse dit ook al mag wees.” 

Tetelestai is soveel meer as net ‘n geestelike album en sal jonk en oud oor en oor bekoor met sy eietydse, dog instrumentale aanslag. Liedjies soos Jy bly my kind, Hoe groot is ons God, Kompas en Halleluja in my hart sal lank in die luisteraar se ore en harte bly eggo.